|
Welkom by die storie agter
die storie...
E-Mail
Die filterstelsel
Laat ons verkeerd om begin, en eers gaan ek
die filterstelsel verduidelik. Kyk daar is maar altyd so een of
twee wat wil weet of die laatie nou strooi vertel of nie, so besluit
maar self. Die vog in enige pyp is so 75% speeksel. Dit loop
vanuit jou mond af in die pypsteel, gaan meng met die pypolie, kom terug
en spoeg in jou mond. Daar kom toe `n paar slim Ingelse en
maak so manier van `n filterstelsel. Die eerste wat ek wil
verduidelik is Keyser, omdat dit die mees bekende pyp in die land is.
Hulle manier van filterstelsel is `n spoegbakkie in die nek van die pyp.
Dan is daar Peterson en Savinelli. Hulle het beide oliekamers
onder in die kop, en `n mondstuk wat die rook van die tong wegneem en na
die bokant van die mond versprei. Savinelli het ook die vermoë om
`n filter te neem, nl. `n balsa hout filter, en ek sien Peterson het
deesdae koolstof filters.
`n Ander pyp wat ook gewild is is die
Falcon met die aluminium onderstuk waarop die kop net vasskroef.
Onder die kop is daar `n vakuum waar daar ook vog opgedam kan word, en
sommiges vorm `n filter deur hier `n pypskoonmaker op te rol. Die
laaste van die gefilterde pype in ons land is Byford. Dit het `n
hele klomp pypies binne wat alle vog kwansuis kan vasvang.
Nou moet ek eers breg, maar dis nodig om
die punt te maak ongelukkig.... Ek het so ongeveer 300 pype, noem
dit en ek het dit! Kromstele, reguitstele, mooies en lelikes,
almal is gerook. Nodeloos om vir ander met dieselfde ondervinding
te sê, die meeste was `n bleddie teleurstelling. Ek gaan sit toe
en kyk na elkeen se filterstelsel, en begin vandaar toe werk aan my eie
stelsel. Die gevolg is die Universele Stelsel pype wat ek nou maak.
Kom ek verduidelik dit gou: Die speeksel wat so afloop in die pyp
het ek hokgeslaan met `n speekselbakkie soos by Keyser. Olie met
`n oliekamer soos by Savinelli en Peterson. En toe raak ek slim.
Te veel mense het gesê dat hulle nie agter die spoegbakkies (van Keyser)
kan skoonmaak nie, toe maak ek dit dat u dit kan uithaal! Nie die
hele ding nie, die insert wat binne in die nek pas, en dan kom mens
sommer die oliekamer ook by vir die skoonmaak.
Dit was nie lank nie dat ek besef het dat
op `n stadium die oliekamer en die speekselbakkie versadig kan raak, en
dan gaat hy nogsteeds in jou bêk spoeg oom! Ek maak toe die insert
om `n 6mm filter te kan vat. Nou vat dit die laaste moontlikheid
van nat rook weg. Ek gaan maak toe die insert ook so dat dit
lugvloei versnel, en dit sonder wrywing, wat beteken koeler rook.
Die prinsiep agter die maklikste ligste rook in die wêreld word die
venturi effek genoem, en is geskoei op `n fisika formule. Om
hierdie pype te rook is so maklik soos asemhaal.
Asof dit toe nou nie genoeg is nie, maak ek
toe ook dat daar in die nek van die pyp `n 9mm filter kan pas, vir die
manne wat gewoond is dit koop, en toe tref dit my, wat as die insert
verlore raak ? Daarsy nou vir die beste, jou filter kan ook in die
steel pas. Verder het ek veral aandag gegee aan die gaaitjie wat
die rook van die tabakkamer na jou mond neem, dit is groter as by enige
ander pyp en maak die wêreld se verskil in ons klimaat. Nou
as jy gesonde verstand het, hoekom sal jy stry en sê dat daar iets beter
is?
Kom ons som gou op. Jy het in my pype
die spoegbakkie in die nek, jou filter kan aan die kopkant of in die
steel pas, jy het `n oliekamer, lugversnelling vir koeler en gemakliker
rook en daar is steeds mense wat glo dat hulle ingevoerde goed beter is?
Twak man
Hier is `n skets om dinge te verduidelik.
| 1:
Vesconite nek wat taper loop en in aluminium pas |
| 2:
Groot opening binne steel wat vakuum vorm |
| 3:
Insert wat 6mm filter vat en spoegbak vorm |
| 4:
Lang kant van insert altyd na onder, verwyder vir 9mm filter |
| 5:
Rookgaatjie na tabakkamer |
| 6:
Oliekamer vir tabakolie |
| 7:
Tabakkamer |
Wie
is Ebenhart Ek
is gebore op Calitzdorp in 1969, Het diensplig gedoen in 1988 en 1989
en is toe SAPD toe in Pretoria
Na die gewone rondflok het ek op
Barrydale my ontslag gekoop in 1996. Ek het in 1993 by `n Duitser
in Johannesburg beland, William Mattner en hy het my leer pype maak.
Hy het die kuns by sy skoonpa, Samek geleer. Jy kan dus aanvaar
dat ek derde generasie Duitse pypmaker is. Al die geheime en
tegnieke van hulle het ek geleer, maar bykans elke dag leer ek nog
steeds.
Ek het besluit om my op Calitzdorp te
kom vestig, en werk tans van hier so as u in die omgewing is, kom gesels
twak met my!
Houtsoorte:
|
Bruyére Eaubochons Die beste hout
vir pypmaak |
Bruyére:
Hierdie houtsoort is ongetwyfeld die beste
algehele keuse vir pype maak. Dit is oorspronklik ontdek in
Frankryk deur `n skaapwagter daar wat hartseer was na die dood van sy
leier, Napoleon. Die voorval het gebeur met die oorlog van
Waterloo. Die skaapwagter het by `n smous `n blokkie van die
Bruyére gekry, dit was algemeen gebruik vir snuifboksies, en het die kop
van Napoleon op die blokkie gekerf en as pyp gebruik.
Die res is geskiedenis soos hulle sê, want
daarna was Elm, Akkerhout, en Olienhout net nie opgewasse teen die
kwaliteit van die nuwe hout met die lieflikste grein nie...
Nou vir die res, die hout se botaniese
naam is Erica Arborea. Dit is een van 640 spesies Erica in die
wêreld, 612 kom voor in ons land, maar wragtig die een wat ek kan
gebruik groei net op die Medittereense kuslyn, en die Jura berge in
Frankryk.
Die naam Bruyére beteken wit heide,
want die struik het `n fyn wit blommetjie wat nogal baie soos `n rosie
lyk. Vandaar het ontstaan die grootste misverstand in die
geskiedenis van pype in Suid Afrika: DIT IS NIE ROOSHOUT NIE! Rooshout
is `n boom met baie minder detail in sy hout as hierdie, en rooshout was
nog nooit vir die maak van goeie pype gebruik nie. Dit is in elk
geval heeltemal te sag om `n duursame pyp van te maak.
Nou net die wortel van die heide
word gebruik, soos die foto hieronder sal aandui. Dit word in
blokkies opgesaag, wat Eubochon genoem word, en word volgens grootte en
snit geklassifiseer. Jou beste snit word Plateaux genoem, en het
gewoonlik korrelrige groeisel erens op die blokkie. Dit word
Flower Growth genoem, en hoe meer daarvan op die pyp uit hierdie hout,
hoe beter. Die ouderdom van die wortel gaan ook bepaal hoe die pyp
gaan rook, baie soos by wyn, hoe ouer, hoe beter... Die grootste
knoets nog uitgehaal was `n stewige 130kg, maar deesdae is dit maar
skaars om sulke grotes te kry. Die blokkies word vir baie lank op
rakke gepak om goed droog te raak. Hoe langer dit gedroog het, hoe
beter gaan dit rook.
| Die wortel
van die wit heide, of Bruyére |
|
Die Blokkies laat jou een pyp
per blokkie toe. Die natuurlike kleur van die hout is soos op die
pyp hieronder. Om die kleur in die hout te kry word `n `vegatable
die` gebruik. Dit gee geen smaak af nie, en aksensueer die grein
sodat die pyp se grein net beter sigbaar is. My metode is om die
pyp te kleur en dan weer ligweg te skuur om net die grein wat porieus is
te laat verkleur. Dit laat die pyp dan lyk of daar are of ogies
van `n ander kleur daarop is. Ek noem hierdie kleurlose pype Cine
Cera, Latyn vir sonder waks.

Bruyére in sy natuurlike kleur
|
Die beste grein op
`n pyp is Birdseye, dit is daai fyn ogies op die hout, en vir die
duurste pype moet dit reg rondom die kop en nek vol hiervan wees.
Dit is nogal deksels skaars, en vrek duur. Die tweede top
grein is Straight grain, en beteken dat die grein vertikaal of
loodreg met die kop en nek reg rondom moet wees. Die slim
mense glo dis hierdie is die beste grein, want hitte gaan saam met
die grein op, en vog af. Vir my smaak is die beste Flame grain, dit
beteken dat die grein op een punt begin en dan paralel met mekaar
dwars oor die pyp loop. Dit rook ook lekkerder as die gewone
grein. Die swakste grein is dooie grein, en beteken dat daar
net eenvoudig nie detail in die hout op sekere plekke is nie, of oor
die hele pyp.
Afrika Houte:
Hardekool (Combretum
Imberbi): Hierdie is die
hout wat ek die meeste gebruik buiten vir Bruyére en dit maak `n
goeie pyp in baie opsigte, maar met twee nadele. Dit is baie
swaar, wat nadelig is vir `n goeie pyp, en dit neem lank om in te
rook. Dit rook nie sleg die eerste ruk nie, maar mens kom
agter dit is nie ingerook nie totdat dit is. Die hout is ook lief
vir fyn windbarsies form, maar gereelde rook sal dit verhoed.
Ek gebruik hoofsaaklik net die standaard filterstelsel in hulle,
waar jy `n 6mm filter kan gebruik en `n oliekamer het. Dit sal
ook as `n reel een van my goedkoopste pype wees. Een van die
groot voordele is dat dit sonder rus gerook kan word, iets wat ek
nie sal aanbeveel vir Bruyére nie. Ek het `n tyd terug `n
hardekool pyp verkoop aan `n boer. Hy het die pyp op die
stroper (10 ton) se wiel vergeet en bo oor die pyp gery op harde
grond. Net die steel van die pyp was gebreek, en na ek die
vervang het, rook hy hom nogsteeds...
Swart
Ivoor (Dalbergia Menoloxolyn )
is voorwaar die beste hout waarmee ek ooit gewerk het. Dit het
die ongelooflikste soet smaak en reuk as ek daarmee werk, en rook
fantasties vanaf die eerste stop. Die hout is pikswart binne
en het `n geel kambium laag buite om, wat somtyds vir die mees
interessante detail sorg. Dit is ook swaar, maar wragtig nie
ek of enigeen wat so pyp het gee om nie, dis net ongelooflik lekker
om te rook. Die mense noem dit ook Driedoring of Zebra hout.
Ongelukkig is dit nie net skaars nie, maar ook vrek duur as mens dit
kry. Dan is daar ook nog die lastige probleem dat termiete mal
oor dit is. Dit laat my somtyds met hout wat perfek lyk
buitekant, maar binne is dit vol tonneltjies gevreet! Ten
spyte van alles, ek sou graag permanent uit dit pype wou maak...
Die dots of wit
kolletjies: Dit is my gradering
en handelsmerk. Dit gee ook my pype net `n beter visuele
balans. Twee dots is standaard grein. Drie is top grein
of `n vry hand ontwerp. Vier is die beste wat ek huidiglik
maak, en gewoonlik skaars grein op `n standaard pypvorm, of `n
ontwerp so uniek soos `n verstandige minister in Suid -Afrika.
Ek draai die dots uit vlakvarktande, en lê dit in op die stele.
Pypstele:
Wel enigiets is amper al vir die se maak gebruik, en kan steeds
gebruik word, maar almal het die een of ander nadeel met
uitsondering van Vulcanite(`n rubber verhard met swawel) en
Lucite(`n edel plastiek).
Die grootste
swakheid van enige pyp is die pypsteel. Pas hom mooi op, en
werk versigtig daarmee. Ek het die stele op die Universele
stelsel so gemaak dat dit taper pas, en boonop `n
vesconite(materiaal gebruik vir buste)nek gegee om die se lewe te
verleng. Druk my pypstele liggies vas, moenie dit in forseer
nie. Dit is gemaak om maklik los te kom van die kop sodat
wanneer dit val, dit sal losskiet en nie sommer breek nie. Vir
die manne wat swaar op stele is het ook `n paar van vesconite gemaak.
Dit werk net so goed soos staal sou in die plek van dit, en is dêm
sterk. Die nadeel is dat dit baie warm rook, so maak maar self
die keuse, aanmekaar stele vervang of warm rook... Ek beveel
die stele aan vir gestremdes, omdat hulle die meeste kompliment nog
van die stele gegee het, hulle het meer krag in hulle hande as ons,
mense.
Nou ja, dis die
storie. Indien daar nog eninge vrae is, kontak my gerus op
enige van my nommers, of klik net hier.
E-Mail
Geniet hulle, en
onthou: Lekker rook!
  

|